
Hoe hanteer jy teleurstelling?
Hoe maak jy om teleurstelling te hanteer wanneer jy dit ervaar? Hoe moet jy dink daaroor?
Teleurstelling is die gevoel wat ’n mens ervaar wanneer jy ’n verwagting of verwagtings het en dié verwagtinge nie aan voldoen word nie. Nie alle teleurstelling is dieselfde nie. Daar is verkillende grade van teleurstelling en ’n mens se reaksie daarop is dus ook meer of minder intens.
Klein teleurstellings word baie gou hanteer, soos wanneer jy baie opgewonde oor ’n opvolg-film is, maar dit glad nie aan jou verwagtinge voldoen wanneer jy dit uiteindelik sien nie. Daar is ook ’n groot verskil tussen die teleurstelling wat ervaar word deur ’n student nadat hy of sy hard gestudeer het en nie ’n ondeskeiding kon behaal nie, en ’n Olimpiese 100 m-atleet wat ’n maand voor die Olimpiese spele ’n been in ’n ongeluk verloor. Hoe dié teleurstellings verwerk word gaan gewis baie verskil.
Dit is egter belangrik om te weet dat teleurstelling ’n normale ervaring is. Dit is ’n natuurlike reaksie, soos om pyn te ervaar wanneer iemand op jou toon trap of om woede te ervaar wanneer iemand jou deur die gesig klap. Wanneer iemand egter nie hul teleurstelling kan verwerk nie, aanhou om daaroor te top en dit hulle lewensvreugde steel, is dit nie gesond nie en moet daar iets aan gedoen word. Dit kan ook gebeur dat onverwerkte teleurstelling iemand daarvan weerhou om nuwe dinge aan te pak omdat ’n vrees vir teleurstelling ontwikkel is. Hulle wil nie iets doen of ervaar nie, want hulle verwag dat hulle teleurgesteld gaan wees.
Wat is die stappe om dit te hanteer? Verduidelik wat die stap is en gee praktiese raad om daardie stap uit te voer. Soos byvoorbeeld spreek dit aan, maak vrede daarmee, aanvaar dit.
Die klein, daaglikse teleurstellings word gewoonlik gou verwerk, soos wanneer jy nie jou gunsteling jogurt op die winkelrak vind nie omdat die laaste bakkie voor jou neus deur die man voor jou weggeraap is. Daar stap hy nou weg met die laaste Choc Chip jogurt en jy moet nou maar ’n ander geur kies, of ’n ander supermark besoek. Die kanse dat jy jou polse daaroor gaan afkou is min. Miskien is dit ook ’n bedekte seën, want sjokolade-geur jogurt is baie lekker, maar nie noodwendig die gesondste keuse nie. Dit is ook soms die geval met die groter teleurstellings! Kort voor lank besef jy dat indien jou vorige meisie of kêrel jou nie teleurgestel het nie, het jy dalk nie die maat van jou drome, met wie jy nou op trou staan, ontmoet nie. Dit help baie indien jy elke teleurstelling ervaar as ’n nuwe geleentheid, vir ’n nuwe, dalk beter, ervaring. Nie almal het egter só ’n positiewe ingestelheid nie. Hoe verwerk ons gewone sterflinge dus ons teleurstellings?
1 Ervaar die emosie
Dit help nie om teleurstellings te probeer ontken of te onderdruk nie. Ervaar jou emosie. Wees omgekrap, daar is tog rede daarvoor. Skop en skree of huil, maar doen dit verkieslik waar niemand jou sien nie! En doen dit binne perke. Moenie iets breek nie. Niks goed gaan daavan kom indien jy die arme man in die winkel uitskel omdat hy die laaste Choc chip gevat het nie en dit gaan ook van geen nut wees om jou vrou uit te trap omdat sy vergeet het om uie te koop vir jou braaibroodjies nie. Sy help jou dalk gou om die teleurstelling in spyt om te skakel. Hoe erger die teleurstelling, hoe meer tyd kan jy afstaan aan die “rou-proses”. Jy moet egter die emosie ervaar. Laat die drakie los sodat hy kan wegvlieg, anders groei hy binne in jou en as hy self uitbreek gaan dit baie pynlik wees.
2 Kom tot stilstand
Wanneer jy klaar stoom afgeblaas het, probeer tot rus kom. Haal ’n paar keer diep asem en probeer om die stormloop van gedagtes te stop. Dit is nie altyd maklik nie, maar probeer. Dis dit tyd om stil te sit en oor jou teleurstelling te dink – objektief daaroor te dink. Kort voor lank gaan die holderstebolder gedagtes ophou en kan jy fokus.
3 Bepaal die skade
Na enige tiepe katestrofe, moet jy die skade bepaal. ’n Praktiese voorbeeld is ’n motor ongeluk. Na die twee motors tot stilstand gekom het, klim jy uit en kyk wat die skade is. Soms is jy gelukkig en daar wys nie ’n merkie nie, of daar is net ’n skraap of ’n klein duik. Ander kere is daar aansienlike skade of jy besef die motor gaan afgeskryf word en jy gaan huis toe moet Uber. Probeer objektief bepaal hoe groot die teleurstelling se invloed op jou lewe is. Het dit die potensiaal om die verloop van jou lewe te verander, of is dit bloot net ongerieflik? Net dié oefening kan jou miskien laat besef dat jy oorreageer, dat dié teleurstelling glad nie so erg is as wat jy aanvanklik gedink het nie… of beter nog, dat dit eintlik tot jou voordeel is.
4 Kies reg, kies positief
Soms is, of voel, die nagevolge van ’n teleurstelling katastrofies. Die atleet wat sy been verloor het se hardlooploopbaan is daarmee heen en so ook sy drome om ’n medalje op die Olimpiese spele in te palm. Die gimnas wat haar rug gebreek het, se lewe verander gewis dramaties. Nie net haar loopbaan is verby nie, sy gaan waarskynlik die res van haar lewe in ’n rolstoel deurbring. Wat ookal met ’n mens gebeur, jy het altyd twee keuses. Jy kan toelaat dat jy in wanhoop verval, of jy kan probeer om die gevolge van wat gebeur het tot die minimum te beperk en om maniere te soek om so normaal moontlik met jou lewe voort te gaan. Jy kan selfs probeer om voordeel te trek uit wat gebeur het en nuwe drome droom. Dit is gewis nie maklik nie, dit is só… maar dink altyd aan die teenstelling. Wat gebeur indien jy nie probeer nie? Jy moet dus die besluit neem om dié teleurstelling te verwerk en te oorkom al weet jy nog nie hoe nie. Niks het nog gebeur nie. Niks het nog in praktyk verander nie, jy voel nog teleurgesteld, jy is nog kwaad of gefrustreerd, jy is dalk nog moedeloos en jy het nog nie antwoorde nie. Jou houding het egter verander.
5 Ontleed en bepaal
Wat het verkeerd geloop? Waarom is daar nie aan jou verwagtinge voldoen nie? Was jou verwagtinge realisties? Is dit omdat jy nie jou beste probeer het nie, nie hard genoeg gewerk het nie, nie iets in ag geneem het nie, nie ’n wyse besluit geneem het nie, of was dit weens iets waaroor jy nie beheer gehad het nie? Covid-19 het byvoorbeeld baie mense se verwagtinge die afgelope twee jaar gekelder. Niemand kon dit voorsien nie en niemand kon vooraf daarvoor beplan het nie. Skryf die oorsaak of oorsake van jou teleurstelling neer sodat jy dit kan sien. Nou weet jy wat gebeur het en kan jy bepaal of jy dit kon voorkom het en of dit buite jou beheer was, of dit jou eie skuld was, of jy ’n aandeel daarin gehad het en of iemand anders of die een of ander gebeure of omstandigheid verantwoordelik is vir jou teleurstelling.
Wat kan jy prakties doen? Dalk meer energie in die taak sit waarin jy gefaal het? Op ’n punt kom waar jy besef jy dak ’n ander uitdaging moet aanpak. Die positiewe in ’n situasie probeer raaksien?
Indien jy self of iemand anders verantwoordelik is, is dit tyd om vrede daarmee te maak. Vergewe jouself of die ander persoon. Maak vrede met die situasie of omstandighede wat dit veroorsaak het, anders mors jy té veel tyd op die verkeerde plek. Gebruik eerder jou energie om jou teleurstelling om te draai, om daaruit te leer en om iets positief daarmee te doen. Teleurstelling is meestal ook ’n geleentheid om te groei en om sterker en meer aanpasbaar te word.
-
Soms moet jy ’n teleurstelling net aanvaar, veral indien dit nie enige invloed op jou toekoms het nie. Jou vriendin het jou nie gevra om haar strooimeisie te wees nie omdat daar so min mense weens Covid by haar troue kon wees. Dit is jammer, maar dit is verby. Jy het niks verkeerd gedoen, sy het niks verkeerd gedoen nie. Moenie dat dié gebeure julle vriendskap ruïneer nie.
-
Kyk wat jy kan leer uit jou ervaring. Daar sal altyd iets wees al is dit net een ding wat jy raaksien en in die toekoms kan vermy of anders doen. Dit gaan jou dadelik beter laat voel. Hoe meer jy raaksien, hoe meer besef jy geen teleurstelling is nutteloos nie. Skryf dit gerus neer, sodat jy dit langer kan onthou. Dan begin jy ook weer meer in beheer van jou lewe voel.
-
Neem aksie. Indien jy nie hard genoeg gewerk het nie, neem ’n besluit om in die toekoms meer te doen. Indien jy te haastig in ’n verhouding in beweeg het, neem kennis en onderneem om volgende keer meer versigtig te wees, om nie duidelike, negatiewe eienskappe te ignoreer nie en minder naïef te probeer wees. Indien jou verkeerde vriende die rede vir die teleurstelling was, los hulle en maak beter vriende. Eet beter, oefen meer, loop aandklasse, doen ’n bietjie navorsing… of wat ookal nodig is. Indien jy teleurgestel is omdat jy ’n té groot hap wou neem, moet jy jou pogings in kleiner dele verdeel. Moenie volgende keer soos Don Quixote instorm nie. Beplan beter, en pak die probleem stuk-stuk aan. Nie net ’n olifant kan ‘n boom laat tuimel nie, ’n bewer kan ook. Dit neem net langer. Indien jy kleiner doelwitte stel, gaan jy meer sukses behaal minder teleurstelling ervaar en meer selfvertroue, kennis en wysheid versamel. Dan word groter doelwitte en drome ook makliker en vinniger haalbaar.
-
’n Bietjie stoïsme kan nie skade doen nie. Daar is sekere dinge in die lewe wat gebeur, wat nie lekker is nie en wat ons niks of bitter min aan kan doen. Die ouderdom en die dood is goeie voorbeelde. Oorloë, natuurrampe en verandering val in dieselfde kategorie. Hoe gouer ons daarmee vrede maak, hoe beter. Indien jy teleurgesteld is oor elke nuwe plooi op jou gesig, is dit te verstane. Jy kan room aan smeer, vullers laat inspuit of selfs jou rimpels laat plattrek, maar kort voor lanks is hulle terug. Hoe gouer jy anders daaroor kan begin dink, hoe beter. Fokus eerder op wat jy nog het en kan doen. Tot jou teleurstelling gaan ’n bekende restaurant afgebreek word, jou gunsteling pyp gaan breek, die motte gaan jou trourok opvreet of die hond gaan jou Teddie beer verskeur. Dinge gebeur wat eenvoudig net onomkeerbaar is. Dit is deel van die huidige lewe. Die wêreld verander deurgaans en slegte dinge gebeur elke nou en dan. Gelukkig verander alles nie en gebeur al die moontlike slegte dinge nie. Baie verandering is ten goede en baie goeie dinge gebeur ook gereëld. Gelukkig weet ons daar wag ’n ander, beter lewe. Ons kan nie besittings saamneem nie en daarom help dit baie indien ’n mens jou fokus van materiële dinge kan wegswaai. Indien ons ook uitsien na ’n lewe na die dood, word oudword makliker en só ook die hartseer wanneer ons van ons geliefdes afskeid moet neem. Ons glo ons gaan hulle weer ontmoet in ’n wêreld sonder hartseer en teleurstellings.
-
Baie teleurstelling kan vermy word indien ’n mens nie met ander meeding nie. Almal se lewe verloop verskillend en elkeen het sy eie talente en gawes. Sommige mense het in ryk huise groot geword en ander in arm huise, mense se geleenthede verskil, hul intelligensie verskil en hul opvoeding verskil. Hoe meet ’n mens jou prestasies teen dié van ander indien die speelveld nie gelyk is nie? Dit is dus die beste om teen jouself mee te ding. Moenie beter as iemand ander probeer wees nie, probeer net om jouself te verbeter. Wanneer jy die wedloop hardloop, moet jy op jou eie baan fokus en nie na die atleet langs jou kyk nie. Indien jy op jou eie baan fokus, gaan jy jou beste wedloop hardloop, maar indien jy die hele tyd links en regs kyk, gaan jy nie in jou eie baan bly nie, teen die ander atleet vas hardloop en waarskynlik neerslaan. Daar is altyd iemand mooier, sterker, slimmer, ryker en meer talentvol as jy. Daar is egter ook baie wat baie minder bevoorreg is. Almal is uniek, almal is feilbaar en almal stoei met hulle eie wroegings en probleme. Niemand is perfek nie. Nie jy nie, maar ook nie jou buurman of buurvrou nie. Hoe gouer jy daarmee vrede maak, hoe minder gaan jy teleurgestel voel omdat ander oënskynlik meer as jy het of beter as jy vaar. Niemand gaan ooit perfek wees nie – nie in hierdie lewe nie. Indien dit jou mikpunt is, gaan jy baie teleurstelling ervaar.
Hoekom is dit sleg vir jou om nie teleurstelling te hanteer nie? Wat kan dit aan jou doen?
Teleurstelling kan jou ’n bitter mens maak indien dit verkeerd verwerk word. Dit kan jou van jou entoesiasme vir die lewe ontneem. Jy kan bang word om nuwe dinge aan te pak omdat jy teleurstelling verwag. Ons ken almal mense wat dadelik die probleme en die negatiewe raaksien en wat niks nuut wil aanpak nie omdat hulle vrese hul lewens oorheers. Vir hulle voel dit nie of hulle dinge laat gebeur nie, maar eerder asof dinge net met hulle gebeur. Daar is waarheid in. Ons is nie altyd in beheer van wat in ons lewens gebeur nie, maar ons kan in beheer wees van hoe ons daarop reageer!
Indien jy teleurstellings onderdruk of ontken, gaan die emosie opbou. Die een of ander tyd gaan die opgekropte gevoelens soos ’n storm losbreek. Dan doen jy iets wat jy nie wou nie, sê dinge wat jy nie regtig wou nie en breek jy bande wat jy eerder wou koester. Jy kan ook ander probleme ontwikkel, soos angs, depressie of paranoia. Indien jy nie die drakie loslaat en laat wegvlieg nie, begin hy jou van binne af opeet. Kort voor lank vermy jy enige verhoudings, vertrou jy niemand nie en word die wêreld vir jou ’n donker en bedreigende plek.
Hoe leer jy jou kind om van jongs af teleurstelling reg te hanteer?
Kinders ervaar teleurstelling bitter gou in hulle lewens. Dit is gewis nie iets wat hulle nie kan vermy nie. Hulle verstaan dit nie dadelik nie en weet ook nie dadelik wat hulle ervaar nie. Hoe gouer hulle leer om die ervaring reg te identifiseer en te verwerk, hoe beter. Omdat jong kinders nog nie hulle emosies verstaan nie, moet hulle ouers nie net reageer sonder om uit te vind wat aangaan nie.
’n Klein seuntjie kan beheer verloor omdat hy onthou sy ma het gesê hy kan ’n lekker na ete kry. Sy ma het egter van die belofte vergeet. Hy weet nie hoe om die teleurstelling aan haar oor te dra nie en gooi dan ’n vloermoer. Sy ervaar hom as stout en straf hom, in plaas daarvan om eers te probeer uitvind waarom hy só ontsteld is. Indien hulle nie gehelp word om teleurstelling in die regte konteks te plaas nie, kan dit ’n negatiewe denkpatroon by hulle skep wat ’n groot invloed kan hê op hul lewensbeskouing, waagmoed en deursettingsvermoë.
Ouers moet dus nie net hulle kinders troos nie, maar ook leiding gee wanneer hulle dit doen. Hulle moenie die teleurstelling afmaak as iets nietigs nie, maar hulle moet ook daarteen waak om té veel ophef daarvan te maak. Kinders moet “bestand” teen teleurstelling gemaak word. Dit verg goeie oordeel en wysheid van die ouers. Indien hul ouers altyd hul ervaring van teleurstelling buffer, gaan hulle nooit “gewoond” daaraan kan raak nie. Hulle moet leer om hul teleurstellings in perspektief te sien, maar hulle moet ook ’n mate van “gehardheid” daarteen ontwikkel. Kinders leer van kleins af om aanpasbaar te raak. Hoe meer teleurstellings hulle ervaar hoe meer leer hulle om dit te verwerk. Hulle moet gou leer dat hulle nie alles kan kry wat hulle wil hê nie en ook nie alles kan doen wat hulle wil nie. Dit is juis die teleurtelling wat hulle soms ervaar wanneer hulle iets doen wat hulle nie moes nie, wat hulle leer om daardie gedrag te vermy.

