top of page

 

  1. Dink jy mense is nou meer geneig om verslaaf te wees aan werk as in ander dekades?

 

Ja gewis. Dit is een van die groot dilemmas van ons tyd. Om oorwerk te wees het bykans ’n status simbool geword. Persoonlikheid het baie te doen met waarom sommige mense te hard werk. Baie mense is ‘workaholics’vir wie hulle loopbaan hulle alles is. Ander werk hard omdat hulle werksomstandighede hulle daartoe dwing. Sommige mense lewe op kredietkaarte en is dus die altyd tyd diep in die skuld en bang om hulle werk te verloor. Hulle kan dus ook baie maklik geboeilie word om meer ure te werk as wat billik is. 

 

Navorsing toon dat werkdruk oor die algemeen sedert die 1970's inderdaad aansienlik toegeneem het.  Werknemers werk vinniger en harder en is meer geneig om te sê dat hulle "te veel werk het om alles goed te doen" as in die verlede. Baie kla dat hulle oorweldig voel deur die eise van hul werk.

 

Weens ekonomiese druk moet baie organisasies en ondernemings hulle personeel verminder in ’n poging om kop bo water te hou. Die mense wat oorbly moet dikwels dan die werk van die werkers wat weg is doen. Daar is gereëld mense wat by my kla dat hulle nou meer as een mens se werk moet doen en daarom ook langer ure moet werk om alles gedoen te kry. Omdat daar só ’n groot aantal werkloses in die land is, probeer die mense dus ondanks hoër werksdruk om kop bo water hou so lank as wat hulle kan uit vrees dat hulle nie ’n ander werk sal kry indien hulle kla of bedank nie.

 

Wanneer jy jou eie onderneming begin het kan jy soms jou eie slawedrywer wees. Jy kan meer werk aanneem as wat jy werklik kan hanteer en dan is jy die hele tyd druk om jou produk betyds te lewer. 

 

Tans is daar baie mense wat weens Covid van  die huis af werk. Soms vervaag die grense tussen werk en huislewe. Hulle werk dus baie meer as wanneer hulle in ‘n kantoor-situasie is en dit kan veroorsaak dat hulle liggaamlik en geestelik uitgeput raak. 

 

Tekens van oorwerk is onder andere: Gebrek aan energie, slapeloosheid, ’n konstante gespanne gevoel of selfs angs oor werksverwante take. Jy begin sukkel om “af te skakel” van werksverwante sake. Jy begin afgetrokke voel en is jy nie meer in voeling is met jou gewone lewe en met jou vriende en familie nie. Jy raak lusteloos en gedemotiveerd en jou energievlakke daal. Soms begin jy gewig optel of gewig verloor, jou immuunstelsel verswak en jy raak maklik siek. Dit begin vir jou voel asof dit onmoontlik is om ’n balans tussen werk en jou sosiale lewe te handhaaf. Jou raak despressief en begin twyfel in die sin van die lewe.

 

2. Waarom is work life balance so belangrik?

’n Mens is nie ’n robot nie. ’n Mens is ’n fynbesnaarde emosionele wese met baie behoeftes. Om  geestelik gesond te voel moet daar aan al dié verskillende behoeftes van die mens voldoen word, nie net aan een nie. Indien daar té veel op een deel van die lewe gefokus word en die ander vir té lank afgeskeep word, gaan die boodjie begin sink. Wanneer dit 'n roetine-deel van jou werksdag word om hoë werksdruk en -spanning te ervaar, jy aanhoudend teen tyd te moet werk en jy altyd beskikbaar vir jou werkgewer en mede-werkers moet wees, kan jykroniese spanning en angs begin ervaar – wat mettertyd kan lei tot sogenaamde "uitbranding".

 

Langdurige intense werkseise kan ook gesinskonflik aanwakker, wat nog meer spanning veroorsaak en ook skuldgevoelens omdat jy besef jy is besig om jou gesin af te skeep. Dan probeer jy om van die werk af huis toe te jaag en gou tyd met jou gesin deur te bring, net om weer terug te jaag en verder te werk. En wanneer jy by die gesin is, voel jy skuldig omdat jy hulle nie jou volle aandag gee nie, maar die hele tyd aan jou werk dink en aan alles wat nog afgehandel moet word. Wanneer jy jou volle aandag aan die mense om jou behoort te gee, kyk jy elke nou en dan of daar nie belangrike WhatsApp boodskappe is nie of jy glip gou weg om jou eposse af te laai. Jy is daar, maar jy is ook nie daar nie. Dít opsigself veroorsaak verdere interne spanning.

 

“Too much work and no play makes Jack a dull boy, is ’n ou gesegte (en dalk ‘n cliché). Maar dit is waar. In vandag se gejaagde lewe is dit maklik om al ons aandag te vestig op ons werk  en om besittings en geld te versamel. Ons ignoreer ons ander behoeftes en oorleef emotioneel net van dag tot dag. On gee baie aandag en aan ernstige dinge wat beide onplesierig en stres-induserende is te fokus. Om werk, gesin en ander verantwoordelikhede te balanseer kan ons gestres en depressief laat voel bloot omdat ons nie enige tyd vir onsself opsy skuif nie. Hoewel te veel klem op werk nie vir ons welstand goed is nie, is dit nie altyd die verhouding van werk tot ontspanning wat belangrik is nie, maar eerder hóé jy jou vrye tyd deurbring. Jy bring miskien jou hele naweek deur die een of ander huistaak te doen, of voortdurend jou werk-e-posse na te gaan. Dan voel jy uitgeput wanneer jy Maandag werk toe ry. Wanneer ons egter pret het, produseer ons liggame hormone wat stres en angs verminder en ons goed laat voel oor onsself. Hierdie “goedvoel”-hormone is van kritieke belang vir 'n gesonde gees en liggaam. Daarom is dit belangrik dat ons tyd maak vir plesier – vir dinge wat ons werklik geniet om te doen dus. Reken tyd in vir pret, en jy sal meer positief voel, nuwe energie kry en gereed voel om die werksweek aan te pak.

 

 

3. Watter algemene wenke en raad het jy vir mense wat daarmee sukkel?

Jy moet gaan nadink oor wat werklik vir jou belangrik in die lewe is. Is dit die werk self, die produk van die werk wat jy doen of is dit die leefstyl wat dit jou bied? Of is dit jou gesin en jou gesondheid? Dra die leefstyl wat jy tans leef werklik by tot ’n vevulde lewe? Het die harde werk wat jy tans doen ’n eindoel of is jy maar net in “auto mode” – werk jy maar net so hard omdat dit ’n gewoonte geword het? Is jy besig om ander te probeer beïndruk en indien dit só is, waarom? Jy moet besef jy is op ’n pad wat nie na ’n goeie einde lei nie! Jy moet tot stilstand kom en jou situasie evalueer. Miskien moet jy ’n kenner se hulp inroep – iemand wat jou sal help om objektief selfondersoek te doen. Voor jy nie erken dat jy oorwerk is nie en iets daaraan wil doen nie, gaan niks gebeur nie. Voor jy nie erken jy besig is om beide jou ligaam en siel skade aan te doen nie, besef dat jy in elkgeval nie meer jou beste werk lewer nie en dat jy binnekort ineen gaan stort nie, gaan jy nie die wil hê om te verander nie. Dit wat jy vrees en só hard werk om te vermy gaan jou juis oorval.

 

Dit is soos om vir ’n padwedloop te oefen. Jy moet 'n plan hê, jy moet dissipline hê en jy moet hard oefen. Wanneer jy resultate sien, motiveer dit jou om nog harder te oefen. Maar rus is net so belangrik as oefen self. As jy oefen, breek jy spierweefsal af en wanneer jy rus bou jou liggaam meer effektiewe spiere. Maar indien jy té gou wil vorder en nie genoeg rus nie, gee jou ligaam in. Dan spuit jy kortesoon en steroïdes in jou lyf. Hoewel jy dan kan aanhou oefen en jou spiere gouers herstel, kan jy verseker weet dat jy net jou ineenstroting uitsel en dat ’n baie groter katestrofe op jou wag. Net soos jy liggaam tyd nodig het om te herstel het jou psige ook tyd nodig om te rus en te herlaai. Indien jy pille en opkikkerdrankies drink om jou aan die gang te hou gaan jy net die nagvolge van jou ongesonde gewoonte uitstel en jou val vererger.

 

4. Kan jy moontlik praktiese wenke gee wat mense kan help om ‘n meer gebalanseerde leefstyl te handhaaf?

 

Maak ’n skedule en beplan jou dag, jou week, jou maand en jou jaar. Werk genoeg tyd in die skedule in om aan nie-werkverwante dinge aandag te gee. Sorg dat jy tyd inwerk om te rus en om dinge te doen wat jy van hou en tyd met jou gesin en vriende deur te bring. Sodoende voel jy dat jy in beheer is en nie hulpeloos deur die golwe van die lewe meegesleur word nie.

 

Dink aan wat werklik vir jou belangrik is en vir wie of waarvoor jy só hard werk. Miskien moet jy dit neer skryf en êrens op plak waar jy dit kan sien. Wanneer jy nog ’n uur langer wil werk, sien jy dit en dan besluit jy of dit werklik nodig is om verder te werk en of jy dit nie maar net uit gewoonte doen nie. het jy nie net bloot verslaag geraak aan jou werk nie? Is die tyd wat jy opoffer om nog te werk nie besig om tyd uit ’n ander deel jou lewe te steel wat jou meer vervulling sal bring nie. Skeep jy nie ander mense af nie en is jy nie miskien selfsugtig nie.

 

Fokus op take wat werklik belangrik is en maak 'n lys van take wat tot na die vakansie kan wag of wat onnodig is. Jy kan byvoorbeeld jou take in ’n volgorde van belangrikheid neerskryf. Skryf dan die lys oor, maar teken net die werklike belangrike take aan – wat regtig nodig is – en gooi dan die ander lys weg. Só word jy verlos van ’n klomp dinge wat net jou tyd mors.

 

Probeer metodes vind om meer effektief te werk, om werkprosesse meer doeltreffend te maak en sodoende diewerkladings te verminder. Verwyder onnodige prosedures in die werkproses wat tyd steel sonder dat dit enige werklike doel dien. Jy kan dalk deur “slimmer” te werk baie tyd spaar en jou werklas en spanning baie verminder.

 

Maak seker jy neem pouses weg van jou lessenaar of werkstasie. Soms is dit juis in dié tyd dat jy skielik aan ’n oplossing vir ’n probleem dink of ’n blink nuwe kreatiewe gedagte jou tref en jy die een of ander blink nuwe plan formuleer.

 

Indien jy van die huis af werk moet jy ’n plek in die huis skep waar jy werk. Moenie in jou kamer en op jou bed werk nie – sodat jou rusplek nie geassosieer met wakker en skerp wees nie. Indien dit gebeur gaan jy sukkel om aan die slaap te raak en wanneer jy slaap gaan jy nie genoeg ontspan nie. Al jou werkprobleme gaan in jou kop bly rond maal en jy gaan sukkel om aan die slaap te raak, jy gaan onrustig slaap en nie uitgerus voel wanneer jy wakker word nie.

 

Probeer dus om jou werk van die res van jou lewe te skei. Wanneer jy by die werk is werk. Terwyl jy daar is fokus jy op jou werk en doen jou beste. Probeer egter om jou werkmantel agter die deur op te hang voordat jy by die deur uitstap en dit toestoot. Moenie dat dit tyd steel uit die res van jou lewe nie. Jou werk en jou loopbaan is belangrik, maar jou lewe draai nie net rondom dit nie. 

 

 

5. Hoe handhaaf jy ‘n gesonde uitkyk op werk asook waarop moet jy ag slaan (ek dink nou aan dinge soos jou emosionele welstand ens) Hoe doen mens dit?

 

Daar is gewis tye wat mense hard moet werk en ekstra ure moet insit. Dit is nog altyd só. Wanneer daar byvoorbeeld ’n oes ingebring moet word, werk boere en hul werkers hard om dit betyds gedoen te kry. Soms is dit nodig om betyds ’n projek klaar te maak wat volgens kontrak op ’n sekere datum afgehandel moet wees. Dan moet almal inspring en die werk klaar doen. Dit moet egter nie die norm wees nie. Wanneer daar hard gewerk is, moet daar weer gerus word – en dan moet daar na die normale werktempo teruggekeer word. mense is nie masjiene nie. Hulle skakel nie net aan om te werk nie en af om te rus nie. Hulle het ook ander behoeftes en kan nie net werk en slaap nie! Indien werkgewers dit van hulle werkers verwag moet hulle eerder vir hulle slim-robotte aanskaf.

 

Goeie beplanning en harde werk bring voorspoed en is goed vir die samelewing. Wanneer mens in ’n land hardwerkend is, gaan dit gewoonlik goed met almal en is daar genoeg geld in omloop om goeie skole, universiteite en hospitale en bou, die armes te help, pensioene te betaal en te sorg dat die ouer mens, die gestremdes en siekes goed versorg word. Die gevoel van vooruitgang dra daartoe by dat mense psigies gesond voel en uitsien na die toekoms.

 

Wanneer iemand ’n nuwe onderneming begin is dit ook soms nodig om baie hard te werk en ekstra ure in te sit om die besigheid op die been te bring. Dan word werk ‘n prioriteit en is daar min tyd vir ander dinge. Daar is egter ’n einddoel waarna gewerk word en almal wat hard werk en hulle eie vrye tyd opoffer weet dat dit ’n tydelike situasie is. Daarom verloor hulle nie moed nie. Hulle besef sake gaan nie altyd so aanhou nie en daar wag ’n belonging in die nabye toekoms. 

 

Wanneer mense egter aanhou om só te werk is dit nie gesond nie. Om ligaamlik en geestelik gesond te bly moet ’n mens ’n gebalanseerde lewe lei, wat genoeg plek laat vir die ander dimensies in jou lewe. Werk is maar net een speek in die wiel van ons lewe. Indien ’n mens die mense se lewe en behoeftes met ’n wiel vergelyk, is daar ’n hele paar speke wat die bandgedeelte aan die buitekant in plek hou. Indien die een speek te lank is of daar speke uit plek is, gaan die wiel nie glad rol nie. Dan rol die wiel stamperig en hop dit rond en is dit ’n gesukkel om dit aan die loop te hou. Voor jy jou oë uitvee kom dit tot stilstand en val dit om. 

 

Jy is 'n komplekse en unieke individu. ’n Gedeelte van jou kompleksiteit spruit uit die feit dat jy baie rolle in die lewe vervul en baie verskillende behoeftes en begeertes het. Jou behoeftes is verdeel in ses hoofareas van die lewe waarin die meeste van jou drome sal val: finansies en loopbaan, fisies en gesondheid, verstandelik en opvoedkundig, gesin en huis, geestelik en eties en sosiaal en kultureel. Jou "plan van aksie” moet al dié areas insluit en nie net grootliks op een van hulle fokus nie.

overworked-team-1280x720.jpg
bottom of page